Resensies

Disclaimer

Soos met alles, begin ons klein en nederig. Indien ons ondersteuning kry van uitgewers, hoop ons dat hierdie gedeelte van die tydskrif effens meer te bied sal hê in die toekoms.

Baaibesoekers - Ben Dekker (1993).

Om af te skop, het Danie Jordaan ons die guns betoon om 'n bundel van Ben Dekker, Baaibesoekers, te resenseer. Hy is egter 'n man wat moeilik tevrede gestel word:

Op 'n dag bel Philip John van Unitra my en vra of hy 'n digbundeltjie van Ben Dekker kan aanstuur vir my om te resenseer; hy het dit op Port St. Johns gekoop en sal graag hoor wat ek daarvan dink.

Die naam Ben Dekker lui onmiddellik 'n klokkie: 'n reus met woeste hare en 'n nog woester baard wat in die tagtigerjare ('n nader afbakening is my gebrekkige geheue nie bestem nie) in die tv-reeks Die vlakte duskant Hebron die rol van Ghaitsie Ghoebieb (spelling verdag ?) speel. Eintlik nie speel nie, want Ben Dekker is net homself in die reeks: alleenloper, half-wilde natuurmens wat eg 'n subsistence-bestaan voer.

Ewenwel, die boekie met sy rare spelwyses (die Burger met sy neukery om alles los te wil skryf sal daarvan hou) arriveer en ek begin met 'n kritiese (skeptiese?) oog lees. Op die voorblad staan dit dat die boekie "ter nagedagtenis van Bartholomeu Dias 505 ND (Na Dias)" is en met die "Mosselbaai Dias Fees 1993" (los geskryf) saamval. In die binneblad word vermeld dat die bundeltjie versorg is deur "verskeie onkundiges ter ere van die Diasfees" (nou darem een woord) te Mosselbaai, en daar is ook twee sketse aangebring: die een lyk op 'n verlore hippie uit die sestigerjare en word voorgehou as die beeltenis van "Ben Dekker, Strandloper, seeman, kreefdief, Transkeier, skilder, beeldhouer, dalk digter, film akteur (al weer dié hebbelikheid met die spelling!), boesmanfilosoof, politikus, 52 jarige losloper, word nou doof en blind ...."

Die ander skets is van 'n man met 'n dikraambril en 'n ietwat verwese uitdrukking op sy gesig, volgens die teks Bert du Plooy met as cv. "Kunsmens, ou vriend, pa van kinders, vertroulik getroud ... woon in Mosselbaai."

Ek vermoed op hierdie stadium wat my voorland is: 'n pamflet, opportunisties uitgegee om 'n paar bucks te swendel uit die sakke van goedgelowige "fees gangers".

Die eerste vers bevestig my vermoede: "Klip Dagboek" is 'n onsamehangende gekweel waarin die "klip dagboek" aangespreek word:

Illustrasie

Illustrasie deur Bert du Plooy
Diep in jou sandsteenlae
rus skedel, skulp en skerf.
Belê in vlak en warm see en meer,
gasgrotte van verdamte teer
en watervlek gewas;
soms rooi gebeits deur vuur en vlam
of die dieper roes van yster.

Dagboek klip van eras, weerverskuiwings,
bladsye voor dié dor, karoorant
in sy stil, blou baai
kom vingersteek het.

Dalk digter? Nie naastenby nie ou Ben, nie naastenby nie. Dalk bied die tweede gedig vooruitgang op die eerste ... Maar nee, "Besoekers 1 - Necho" laat my koud ten spyte van twee voetnote wat aan die ongeletterde leser verduidelik dat die "onbekende ras" waaroor die eerste strofe dit het, die "ras bekend as die BOSKOPOID" is, en dat Necho se skepe, hoogs waarskynlik beman deur "Foenisiërs" 2600 jaar gelede reeds om Afrika geseil het.

Maar miskien is my smaak gekorrupteer deur te veel Opperman, of dalk 'n raps te veel Eybers, of dalk is dit glad nie die meesters nie, maar die De Langes en Hambidges wat my van poëtiese koers af het ... En tog, en tog val sekere strofes uit sommige verse op. Soos:

Dan gee die land 'n winkelhaak
van klip en sand en struik,
wat oopklap in die wye oseaan;
'n anker vir die oorvloed
van 'n geiler see.

En eindelik lees ek 'n gedig raak wat tog bevredig:

Padrao - Klipkruis

Al langs die Weskus
toe suid, toe Oos
van ons vasteland
verrys klipkruise.

Baken geen waterplek
geen ontmoetingspunt
met vriendelike stamme nie.

Net 'n teken, rigtingwyser
op, af, links, regs;
die Christendom was hier
in Katolieke Portugees.

Enkele ander verse bevat mooi fragmente, byvoorbeeld "Water! hout en vleis" wat melding maak van die "erger lus van lies"; "Soekende" wat 'n Afrika-korrektief bied op die Europeërs wat "op soek na sy / ... die saggelooide velkaros verag" en "Besoekers 111 - Ben Dekker" wat 'n onthutsende perspektief bied op die huidige bewoners van die Baai. Maar dan kan die dalk-digter homself nie verhelp nie en sluit hy af met 'n stukkie konkrete poësie wat hy verklaar as "'n Gedigsvorm eie aan die digter" en hierdie resensent moet oplaas besluit: die boekie het kuriositeitswaarde, veral binne die sfeer van die Oos-Kapenaars se omhelsing van die eie, maar dit kan nie as sterk poësie op eie bene staan nie.

Danie Jordaan.
Universiteit van Port Elizabeth.


Copyright:  © 1997; 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/res1.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]