www.owlhouse.co.za

(ongetwyfeld gereïnkarneer as brandsiek hond
gooi miss helen en ek skouer teen die stofstorm
onklaar karoo-engele roer die boomtakke om
hier op bethesda)
piramides baken onbesonne verblyfreg af
mak leeus broei sfinkserig aan rye spykerskrif
'n noklig lei lammers ligvoets oor poeierglas
na 'n spinnerakfees van gebreekte lig
persies lê matventers versteen onder 'n kruis wat geen uitkoms bied
Koos se skurwe palms het die skugter nimf
tietie-op tietie-af halfpad uit die muur gelok
[versigtig verwyder ek 'n doring uit haar hondevlees
haar stert huiwer kwisterig voor dooiemensdeur]
binne tandem my gunsteling portrette rasperig teen die sitkamermuur:
gevlerkte minnaar omhels die dood 'n maagd lyfdelik
oplaas bevry van hunkeringe ondermaans
in hul opwaartse vlug is albei onbewus
van fluisteringe wat in bedekrale neffens hulle gespyker hang
omraam deur die kombuisvenster skrop poue
luisterend nes op die boog
hou skerfstert wag oor die ppc-orde waarmee
sandsteen pelgrims ietwat rigtingbedonnerd
sonwaarts trek
[vlooierig koester sy my gang soos 'n skaduwee
en kom tussen dissipels in die varende tuin tot rus]
'n dor meermin vlei haarself vinnerig oor die bad se rand
verlede somers sit nog nekomgedraai
in die kerse se verloopte was
vergeefs probeer profete in gestolde klip
tyd se gang met 'n sinodale draadtrek keer
seeglas oë pleit agter die serpentyn se mondvol vrag
om vrugtige begryp
maar die wind kou al fletterend aan sinkplate mee


TERUG